Marco Botha is ’n skrywer, TV-rugbykommentator en kommunikasiebestuurder; kortom, ’n storieverteller in allerlei formate, Hy het die grade BA (Sportwetenskap) en BPhil (Joernalistiek) onderskeidelik in 2007 en 2008 aan die Universiteit Stellenbosch behaal.
“Die Spore van Gert Saggiestrap het as ’n blote belangstelling in die Ju/’hoansi-mense van Namibië begin. Hoewel ek aanvanklik met ’n rooskleurige bril na die Boesmans (hul woord) gekyk het, het my navorsing my gelei na ’n geskiedenis en hedendaagse werklikheid van onderdrukking, armoede en verontmensliking. “Die joernalis in my wou die ware toedrag van sake beskryf, en ek het besluit om dit in fiksieformaat te doen ten einde die storie vir ’n breër lesersmark toeganklik te maak. ’n Boesman-familie van Epukiro het my tydens die navorsing- en skryfproses bygestaan, en die boek sou nie sonder die betrokkenheid van die /Ui-gesin moontlik gewees het nie. Ook die werk van Willemien le Roux, James Suzman en Rob Gordon was van onskatbare waarde. Rob is ’n oud-Matie en emeritus professor in antropologie aan die Universiteit van Vermont in die VSA.”
Die Spore van Gert Saggiestrap is in alle boekwinkels beskikbaar.