Die Universiteit Stellenbosch (US) koester die drome van studente om ‘n wêreldklas kwalifikasie te verwerf en die wêreld van werk met selfvertroue te betree. Maar vir baie van ons studente is die pad na akademiese sukses besonder moeilik en benodig hulle hulp om vele struikelblokke te oorkom. Terwyl ons ‘n sterk alumni-netwerk bou, is ons doel om ‘n kultuur van “maak ‘n verskil” te vestig wat ‘n positiewe impak op die lewens van huidige en toekomstige Maties sal hê.
Maties soos Marilet Daniel doen presies dit! Op Sondag 24 September pak sy die Berlyn-marathon aan – nie net om haar persoonlike doelwitte te bereik nie, maar ook om bewustheid en broodnodige fondse in te samel vir die Universiteit se #Move4Food-veldtog wat daarop gemik is om voedselonsekerheid onder studente aan die US te bekamp.
‘n Boodskap van Marilet:
“Ek is Marilet, 38-jaar-oud, en ‘n geoktrooieerde rekenmeester in Amsterdam, wat beteken dat ek baie tyd sittende voor ‘n rekenaar deurbring. Ek het vir myself ‘n fisiese doelwit gestel – voltooi ‘n marathon! Ek is nie ‘n natuurlike atleet nie, maar wou kyk wat my liggaan kan doen, in plaas van hoe dit lyk. Die ‘helderheid van gemoed’ wat saam met die draf kom, was ‘n bonus. Ek was super gelukkig om ‘n plek in die Berlyn-marathon te kry en sover geniet ek dit baie. “No draf too tough” is my man se motto wat nou myne ook geword het. My mikpunt is om €500 in te samel.”
Het jy geweet? ‘n Skenking van €5 kan ‘n student van 5 etes voorsien. Deur Marilet se inisiatief te ondersteun, sal jy beslis ‘n verskil maak. Jy het tyd tot Vrydag 13 Oktober 2023 om ‘n skenking op haar GivenGain-bladsy te maak. Só ondersteun jy vir Marilet en ons studente.